Fijnwyn fees gaan van krag tot krag - Netwerk 24

http://www.netwerk24.com/Ontspan/Kos-en-Wyn/fijnwynfees-gaan-van-krag-tot-krag-20160514#

Tussen 500 pekanneut- en 200 aman­delbome het meer as 3 000 wynliefhebbers voorverlede naweek gesellig gekuier by die Fijnwynfees net buite Pretoria.

Dié fees op ’n plaas in Tierpoort, oos van Pretoria, is nou in sy derde jaar en lok besoekers van so ver soos Noordwes en Mpumalanga. Dit word twee keer ’n jaar gehou.

Verskeie kunstenaars, onder wie die sanger ­Kevin Leo, het die gaste heeldag vermaak waar hulle op piekniekkomberse of strooibalies en om gesellige tafels gekuier het.

Vir die kleinspan was daar perdritte en springkastele.

Wyne van 38 boetiekwynplase is ten toon gestel. Charmain Lourens, stigter van die fees, sê sy kies die 38 wynplase en 18 kosstalletjies versigtig om sodoende die fees uniek en spesiaal te maak.

Die Lourens-gesin het die plaas nege jaar gelede gekoop en ’n onthaallokaal vir tot 120 gaste, Shokran Events, daar gebou.

“Aanvanklik het dit begin as ’n manier om dié werkende plaas se Marokkaans-geïnspireerde onthaallokaal meer blootstelling te gee. Die fees het egter intussen ’n trekpleister op sy eie geword,” vertel sy.

Die onthaallokaal is oor naweke gesog vir troues, verjaardagpartytjies en spanbougeleenthede.

* Die volgende Fijnwynfees vind op 24 en 25 September plaas. Op 16 Junie en 30 Julie is daar egter kleiner, maar ewe lekker, feeste. Die Rooi Fijnwynfees op Jeugdag sal verskeie stalletjies met rooiwyne, port en kase hê, terwyl besoekers in Julie verskeie boetiekbiere sal kan geniet.

Kaartjies vir die feeste is beskikbaar by iTicket.co.za en kos R150 vir volwassenes en R50 vir kinders ouer as 12 jaar (kinders onder 12 gratis). Skakel 082 335 5659 vir meer of besoek fijnwyn.co.za of
shokran.co.za.

Artikel in die Rapport  

Artikel in die Rapport